Gesogte liedjieskryfwerkswinkels nou in Namibië
- marlizeleyden8
- Jun 4
- 4 min read
ATKV-Crescendo, een van die voorste Afrikaanse musiekontwikkelingsprojekte van die afgelope vyftig jaar, hou tussen 7 en 14 Junie gratis liedjieskryfwerkswinkels regoor Namibië.
Vir die eerste keer ooit word ATKV-Crescendo se gesogte musikale mentorskapprogram buite Suid-Afrika se grense tot in die hartjie van Namibië geneem. Enigiemand bo 18 wat al liedjies geskryf het of wil leer om liedjies te skryf, is welkom. Alhoewel die werkswinkel gemik is op die skep van nuwe Afrikaanse musiek, kan diegene wat nog net in Engels geskryf het die werkswinkel ook bywoon.
Tydens hierdie werkswinkels gaan deelnemers deur kundiges en kunstenaars soos Ixa Adonis, Gracia Louw, Selby Williams en Morné van Staden nie net touwys gemaak word in basiese liedjieskryfvaardighede nie, maar ook bemagtig word in aspekte soos projekbestuur.
Hierdie werkswinkels is deel van ATKV-Crescendo se groter visie om die Afrikaanse musiekbedryf van nuwe liedjies, stemme en genres te voorsien. “Ons moedig kunstenaars aan om in hulle eie dialekte te sing,” verduidelik projekorganiseerder Morné van Staden hierdie benadering. “Dit was net ’n logiese stap om ATKV-Crescendo ook na Namibië uit te brei, want sonder die pragtige variëteite van Afrikaans wat in Namibië gepraat word, is daar ’n groot leemte in die Afrikaanse musiekbedryf.”
Alhoewel dit die eerste keer is dat liedjieskryfwerkswinkels in Namibië gehou word, het Crescendo reeds in 2024 na Namibië uitgebrei toe Ixa van Masekinnez-faam in-persoon-oudisies gehou het om moontlike finaliste vir ATKV-Crescendo se omvattende mentorskapprogram in April 2025 te identifiseer. Twee finaliste van Namibië is deur ’n diverse groep musikante en rolspelers in die musiekbedryf met genoegsame kennis en kundigheid om hulle musikale loopbaan volhoubaar af te skop, toegerus. Dit is dan ook met trots dat ons kan aankondig dat Salvador Mouers van Walvisbaai as Namibië se eerste Crescendo-opnamekunstenaar gekies is. Hy gaan nie net ’n draai by die werkswinkel in Walvisbaai maak nie, maar tree in Oktober vanjaar in sy eerste amptelike Crescendo-produksie op.
Voornemende deelnemers kan registreer deur www.atkv.org.za te besoek. Alternatiewelik kan Selby Williams by 081 810 2750 gekontak word.
Besonderhede oor werkswinkels
Windhoek: 7 Junie vanaf 10:00 tot 15:00 by die Windhoek- Afrikaanse Privaatskool (WAP) in Drakensbergstraat 5, Eros, Windhoek.
Rehoboth: 8 Junie vanaf 15:00 tot 18:00 by die Rehoboth Arts Centre in die TRC-gebou, Rehoboth.
Walvisbaai: 14 Junie vanaf 10:00 tot 15:00 by die Rooms-Katolieke kerk in Kruisstraat, Narraville, Walvisbaai.
MEER OOR DIE WERKSWINKEL-AANBIEDERS
Ike (aka Ixa) Adonis
Ike Jericho Adonis (aka Ixa) is 'n Afrikaanse rymkletser, liedjieskrywer, musiekvervaardiger en platejoggie van Walvisbaai, Namibië. Alhoewel sy musiek in die bedryf as hip-hop geklassifiseer word, noem hy dit “hip-hoop”. “Miskien klink dit vir ander vreemd,” verduidelik hy, “maar ek voel die Here het my deur musiek gered. Hip-hop het my hoop gegee.”
Met sy skerpsinnige, motiverende woorde, nie net in sy musiek nie, maar ook deur sy sosialemediaplatforms, hoop hy om sy aanhangers positief te beïnvloed. Deur die loop van sy musikale loopbaan tot dusver het hy geleentheid gehad om in Nederland op te tree en die verhoog met Suid-Afrikaanse swaargewigte HemelBesem en EarlyB te deel.
Ixa is sedert 2024 deel van die ATKV-Crescendofamilie as Namibië se talentsoeker en vanjaar is hy ook as mentor aangewys om die finaliste tydens die mentorskapprogram touwys te maak. Tydens die liedjieskryfwerkswinkels gaan hy onder andere praat oor “my musiek, my kultuur, my loopbaan”.
Selby Williams
Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Selby Williams het as die tweedeoudste van vier kinders baie tyd by sy ouma deurgebring. Wanneer 'n spesiale liedjie oor die radio gespeel het, het hy altyd saam met haar gesing. Dit is waar sy liefde vir musiek begin het.
Ná matriek het hy by 'n gemeenskapskunsorganisasie in Rehoboth aangesluit wat hom gehelp het om sy musikale vaardighede te ontwikkel. Hy het die geleentheid gehad om sy musikale reis ook met oorsese gehore te deel.
Selby se deelname aan die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram in 2022 het nie net sy liefde vir musiek verder gevestig nie, maar vir die eerste keer het hy sy hand aan komposisie gewaag. In Augustus 2023 het hy sy debuutalbum Hier is ek vrygestel. ’n Aantal musiekvideo’s van hom is reeds op alle stromingsplatforms vrygestel. Hy het al by verskeie kunstefeeste soos die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees opgetree. Een van sy meer onlangse produksies was Kô laat ons dans tydens die Adam Small-fees. Tydens die werkswinkels gaan hy deelnemers touwys maak in die basiese struktuur van liedjies.
Gracia Louw
Gracia Louw is ’n storieverteller, vermaakkunstenaar, digter en spreker. Sy is die stigter van Bly Staan, ’n inisiatief wat daarop gemik is om deur storievertelling mense aan te moedig om ten spyte van omstandighede te “bly staan”. Haar passie vir sosiale transformasie deur van die kunste gebruik te maak, het haar die geleentheid gegee om vir South Roots Internasionaal te werk. Oor die afgelope aantal jaar het sy die voorreg gehad om in meer as tien lande as kunstenaar, digter en spreker op te tree. Sy is as mentor, kunstenaar en sosialemediastrateeg by ATKV-Crescendo betrokke. Haar fokus tydens die werkwinkels is die skep van lirieke.
MEER OOR NAMIBIË SE EERSTE OPNAMEKUNSTENAAR
Salvador Mouers (31) van Narraville in Walvisbaai vertel dat hy op kleuterskool al sy eerste liedjie gesing het. Van toe af was musiek nog altyd deel van wie hy is.
In 2010 was dié eggenoot en pa van drie dogtertjies deel van ’n groep Contagious Africa. In 2012 sluit hy aan by ’n hip-hop-groep met die naam Brazse van die mic. In 2014 besluit hy om solo te gaan en stel sy eerste album, Everything, vry. Hiervoor ontvang hy twee nominasies tydens The Namibia Annual Music Awards vir beste R&B-album en vir beste nuweling.
Die afgelope twee jaar was my fokus nie op musiek nie. Dit het ’n bietjie na die agtergrond geskuif,” vertel hy. Hy wou nie eintlik inskryf nie, maar vandag weet hy die ATKV-mentorskapprogram het sy lewe verander. “Toe ek daar opdaag, het dit vir my gevoel of ek tuis gekom het, tussen my mense. Dit het my weer laat droom, man, die vuur in my gestook.”
Om as een van die opnamekunstenaars gekies te wees, is vir hom ’n groot geleentheid. “Nou kan ek my aandag net op my musiek toespits.”
VIR MEDIANAVRAE OF ONDERHOUDE
Kontak Marlize Leyden by marlize.leyden@outlook.com vir onderhoude of meer inligting.
Van links na regs: Ike (aka Ixa) Adonis, Selby Williams, Gracia Louw en Salvador Mouers.
Kommentare