ROBIN FOURIE
Aka Die Hooflig (kletsrymer, kursusleier
en kreatiewe direkteur
BIO
Robin Fourie se liefde vir hip-hop het reeds tydens sy skooljare begin toe hy aan die musiek van Beastie Boys blootgestel is. Hy staan nie verniet bekend as “die woordeboek” nie. Met sy wyd-uiteenlopende woordeskat kry hy dit reg om poësie en hip-hop op so ’n briljante manier saam te laat smelt dat hy ongetwyfeld een van Suid-Afrika se beste kletsrymers is.
Aan kreatiwiteit ontbreek dit nie. As die stigter van die South Roots-inisiatief by die Kibbutz in Worcester is hy die medeskrywer van twee bekroonde produksies wat in Londen en die VSA ’n draai gaan maak. I Long to Sing en Broken Shackles gaan oor die stories van die gemeenskappe waar die kunstenaars vandaan kom.
Afgesien daarvan dat hy ’n voltydse kunstenaar is, is dit vir Robin ’n roeping om ander te leer deur middel van hip-hop en ander mediums. Nadat hy hip-hop in die Breedevalei-distrik bekend gestel het, probeer hy die kollig op ander talentvolle hip-hop-kunstenaars in die gebied laat val.
Vyftien jaar gelede het hy saam met die sanger HemelBesem die Expressions Sessions in Worcester begin. Hierdie inisiatief is ook aktief in Kuilsrivier, George, Oudtshoorn en Kaapstad. Tydens hierdie sessies kry veral onbekende kunstenaars die kans om hul talent ten toon te stel.
Sy passie vir sang en die ontwikkeling en bemagtiging van musikale talent maak dat Robin ’n integrale deel van die ATKV-Crescendo se Mentorskapprogram vorm. Die raad en wysheid wat hy uitdeel, het aan hom die bynaam van “the whisperer” besorg.
​