top of page
Jason 01.jpg

Persverklarings

Bly op hoogte van die jongste nuus oor ons kunstenaars en ATKV-Crescendo.

Selby Williams 1.jpg

Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Selby Williams is gebore en getoë in Avianpark, een van die gevaarlikste en bende-geteisterde areas in die Worcester- en Wes-Kaap-omgewing. Ten spyte van hierdie nederige begin, het Selby nog altyd gedroom om eendag 'n impak nie net in sy plaaslike gemeenskap nie, maar ook in die wêreld, te maak.

As die tweedeoudste van vier kinders het hy baie tyd by sy ouma deurgebring. Wanneer 'n spesiale liedjie oor die radio gespeel het, het hy altyd saam met sy ouma gesing. Dit is waarskynlik waar sy liefde vir musiek begin het.

 

Ten spyte van groepsdruk in sy tienerjare het sy liefde vir musiek gebly. Nadat Selby verskeie sangkompetisies ontdek het, het hy besluit dat hy eendag die volgende John Legend wil wees.

 

Ná matriek het hy by 'n gemeenskapskunsorganisasie aangesluit wat hom gehelp het om sy musikale vaardighede te ontwikkel. Hy het die geleentheid gehad om ook oorsee sy musikale reis met gehore te deel.

 

Selby se deelname in die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram in 2022 het nie net sy liefde vir musiek verder gevestig nie, maar vir die eerste keer het hy sy hand aan komposisie gewaag. Hy kon sy eerste liedjie Vir ewig en nou opneem en in die proses eerstehands ervaar hoe 'n kunstenaar sy eie musikale handelsmerk en fondasie ontwikkel.

 

Op die oomblik is hy besig om sy eerste album te vervaardig. Hy glo dat sy musiek 'n universele taal praat waarmee almal kan vereenselwig. Hy hoop dat hy deur sy musiek ander kan inspireer en ten goede kan verander.

Marsha Bothma, 'n graduant van Stellenbosch Universiteit en sanger/liedjieskrywer van Kaapstad, sing al sedert sy agt jaar oud is. Op twaalfjarige ouderdom het sy vir die eerste keer haar hand aan liedjieskryf gewaag. Hierdie liefde vir musiek was die eerste stap om uiteindelik in 2022 as 'n deelnemer van die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram gekies te word. Vanjaar tree sy op as een van die mentors in hierdie projek.

Marsha 1.jpg

Die musiek wat uit haar pen verskyn, reflekteer haar liefde van R&B, Afrikaans, gospel, pop en house om maar net 'n paar te noem. Deur haar komposisies is sy in staat om 'n prettige, dog introspektiewe styl, te skep oor enigiets wat haar na aan die hart lê. As uitvoerende kunstenaar is sy bekend vir haar strelende stem en lewendige energie tydens haar optredes wat haar help om direk met die gehoor te kommunikeer.

 

Marsha se liedjie Stronger het die nommer 1-posisie op Heart FM Top 10 en Radio Awakening beklee. Verder kan sy spog met die feit dat hierdie liedjie op meer as veertig plaaslike en internasionale radiostasies gespeel is.

 

Haar laaste enkelsnit Vlam in my hart is geskryf as 'n ode aan haar man. Aanhangers kan uitsien na die musiekvideo wat in Julie vrygestel word.

2023
bottom of page