

Jodi
Jantjies
2016-mentorskapprogram
MEER OOR JODI
Jodi Jantjies, ’n boorling van Mitchells Plain in die Wes-Kaap, was deel van 2016 se mentorskapprogram.
Sy kom uit ’n musikale gesin, dis nie altemit nie. Sy en haar tweelingsussie Jade het nog altyd in haar ma se kerk gesing en in die orkes gespeel. Haar broer Andrew is 'n professionele sanger wat onder andere al in hotelle in lande soos Spanje gesing het.
Jodi se musikale loopbaan was nie sonder struikelblokke nie. Van kleins af het sy 'n probleem met hakkel gehad. Die een oomblik praat sy en die volgende oomblik is dit asof haar tong aan haar verhemelte klou. Snaaks genoeg het sy nooit enige probleme ervaar wanneer sy sing nie – dan kom die woorde seepglad uit.
Op 4 Maart 2016 waag sy as ’n skaam sestienjarige om haar eie liedjie voor ATKV-Crescendo se mentors te sing. Mynie Grové, HemelBesem, Danie du Toit en Anna Davel was al vier dit eens dat Jodi ’n pad saam met ATKV-Crescendo se mentors moet stap.
Oor die afgelope aantal jaar het Jodi met die hulp van ATKV-Crescendo se mentorskapprogram haar eie musikale styl ontwikkel – diep, sielvolle musiek wat ’n mengsel van jazz, gospel en soul is. Alhoewel sy in Afrikaans en Engels sing, konsentreer sy op die oomblik om haar Afrikaanse erfenis te ontgin.
Die uitreiking van haar debuutalbum Woorde in Oktober 2021 was ’n lewenslange droom wat waar geword het. Die liedjie Gee my die woorde het sy saam met die Afrikaanse rock-ikoon Karen Zoid opgeneem.


