top of page

Alle plasings

  • marlizeleyden8
  • 4 days ago
  • 2 min read

Updated: 3 days ago

Die gesogte ATKV-Crescendo-mentorskapprogram het ’n groot hupstoot gekry met ’n borg- en vennootskap van die M&M-musiekakademie, ’n houermaatskappy van Kwena Music. Hierdie samewerking sluit nie net finansiële ondersteuning in nie, maar mentors van M&M-musiekakademie gaan ook beskikbaar gestel word om opkomende kunstenaars tydens die program onder hul vlerk te neem en industriegereed kry.

 

Deur die jaar sal die musiekakademie ook werkswinkels, kunstenaarsvertonings en samewerkende projekte – wat aan deelnemers praktiese ervaring en blootstelling aan die bedryf bied – ondersteun.

 

Volgens Eben de Jongh, hoof- uitvoerende beampte van Kwena Music, is die borgskap deel van ’n groter visie om kunstenaars volhoubaar te ontwikkel.

 

“Ons glo dat musiek vir almal is. Ons wil die mure tussen kunstenaar en gehoor afbreek en musiek meer toeganklik maak vir almal wat dit wil skep en deel. Daar is te veel rompslomp en buitensporige kostes wat nuwe kunstenaars terughou. Talent word nie bepaal deur hoeveel geld jy het nie, en ons missie is om te verseker dat geen kunstenaar wat hul sout werd is deur ’n tekort aan fondse teruggehou word nie,” sê De Jongh.

 

“Deur gratis werkswinkels borg ons toegang tot musiekonderrig, inspireer ons kreatiwiteit, en bemagtig ons individue met die gereedskap om hulself deur musiek uit te druk. Hierdie inisiatief vorm deel van ons breër verbintenis tot sosiale impak – om terug te gee, musiekgeletterdheid te bevorder en te help bou aan ’n meer inklusiewe en lewendige musiekkultuur in Suid-Afrika. Ons probeer finansiële hindernisse verlig deur beurse toe te ken aan die mees talentvolle en gemotiveerde studente.”

 

Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, sê dat die vrugbare vennootskap beteken dat Crescendo meer werkswinkels in meer areas kan aanbied om meer mense te bereik en vaardighede te ontwikkel en slyp.

 

“Daardeur kan ons ’n daadwerklike verskil maak in mense se lewens. Met hierdie vennootskap versterk ATKV-Crescendo en M&M-musiekakademie hul gedeelde doel – om Suid-Afrikaanse kunstenaars te bemagtig, nuwe stemme te laat hoor, en ’n volhoubare musiektoekoms vir almal wat in die krag van musiek glo, te bou.”




Met die ruim borgskap van Kwena Music en M&M-musiekakademie kan nog meer werkswinkels in 2026 gehou word om musikale talent in Suid-Afrika te ontwikkel.

 
 
 

Belangstellendes het tot 31 Desember 2025 kans om hulle oorspronklike liedjie vir oorweging aan volgende jaar se ATKV-mentorskapprogram in te skryf. Om 'n bietjie raad te gee word gratis liedjieskryfwerkswinkels in November oor die land gehou.


  • Stellenbosch op 8 November om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30) by Gebou 2, The Vineyard-besigheidspark, Devon Valleylaan, Stellenbosch. Die aanbieders is Brandon October, Whaden Johannes en Gracia Louw. Besoek www.crescendo.co.za om jou plek te verseker.

  • Mosselbaai op 15 November om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30) by The Townhouse, Marketstraat 3, Mosselbaai. Die aanbieders is Petronel Baard, Whaden Johannes en Hakkiesdraad Hartman. Besoek www.crescendo.co.za om jou plek te verseker.

  • Fisantekraal op 22 November om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30) by The Father’s Heart, Milkwoodstraat, Greenville, Fisantekraal. Die aanbieders is Deon Meiring, Jitsvinger en Olga Leonard. Besoek www.crescendo.co.za om vir dié gratis werkswinkel te bespreek.

  • Kleinmond op 29 November om 09:00 (registrasie begin om 08:30) by Kleinmond-jeugsaal, Hoek van Nemesia- en Proteastraat. Die aanbieders is Frazer Barry, Whaden Johannes en Babette Viljoen. Besoek www.crescendo.org.za om vir dié gratis werkswinkel te bespreek.


Kunstenaars hoef nie ’n werkswinkel by te woon om in te skryf nie. Deur www.crescendo.org.za te besoek, kan liedjies ook digitaal ingeskryf word.

Petronel Baard, Whaden Johannes, Deon Meiring, Frazer Barry, Brandon October en Gracia Louw is maar net 'n paar van die groot name in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie wat die gratis liedjieskryfwerkswinkels in November gaan aabied.


 
 
 

Updated: 4 days ago

Met nog net twee maande oor, word aspirantliedjieskrywers aangemoedig om hul oorspronklike liedjie in te skryf vir oorweging vir deelname aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram in 2026. Om voornemende deelnemers by te staan, word ’n aantal gratis liedjieskryfwerkswinkels regoor die land aangebied.

 

“Jy kry soms net een kans. As jy by die huis sit en dink jy is nie goed genoeg nie, gaan jy nie goed genoeg wees nie. Kom uit jou kamer uit, uit jou kar of stort, of waar ook al jy sing. Jy weet nooit of daai spesifieke tyd die regte tyd vir jou is nie. As jy ’n liedjie het, ’n song het of woorde het, skryf in. Wie weet – dis dalk jou tyd.”

 

Sanger en televisieaanbieder, Brandon October, weet waarvan hy praat. Nie net was hy die naaswenner in die eerste Suid-Afrikaanse Idols-kompetisie nie, maar ook ’n beoordelaar op die realiteitstelevisiereeks Ons soek die sanger. Boonop gaan hy tydens die 2026-mentorskapprogram ’n mentor wees.

 

Inskrywings om deel te wees van hierdie unieke mentorskapprogram in Maart/April 2026 in die Paarl sluit op 31 Desember 2025. Tien voornemende kunstenaars gaan gekies word om saam met ander musikante met dieselfde passie vir musiek en lirieke hierdie program by te woon, waar groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf hulle gaan touwys maak om ’n volhoubare loopbaan van musiek te maak. Die onderwerpe wat aangebied word, wissel van die kuns van goeie lirieke tot hoe om musiek te skryf wat deur radiostasies gespeel gaan word, hoe om kaartjiepryse te bepaal en hoe sosialemediabemarking werk.

 

Jacques de Villiers van Joshua na die Reën stel dit pragtig: “Crescendo gee nie net vlerke aan kunstenaars se drome nie, maar is ook die vlerke van ondersteuning waarmee kunstenaars leer om te vlieg. As jy iemand is wat self musiek skryf en jy wil die plek in jou hart vind waar jy iets kan skryf wat gehoor word, is Crescendo die kanaal vir jou om jou hart uit te stort voor mense wat in-diepte luister.”

 

Die bekkige radio- en televisie-aanbieder, Lyntjie Jaars, noem haarself tereg ’n “Crescendo groupie”: “Crescendo se slagspreuk is ‘waar legendes gebore word’. Jy kan nie jou besigheid of talent in jou laaikas of iewers wegsteek nie. Hierdie mense vat jou droom en hulle ontgin dit. As jy dalk gedink het dat jy iets kan maak van jou musiek of dat jou woorde iets beteken, sê ek vir jou: ‘Miskien is verby. Jóú tyd is nou.’”

 

’n Voormalige finalis en mentor, Whaden Johannes, meld dat Crescendo al die goue status van 50 jaar bereik het en dat dit nog vorentoe gaan.

 

“Glo in jouself en maak jouself oop vir die mentors, want hulle gaan jou laat jou groei. Crescendo vat jou egalig vorentoe om lank in die industrie te wees.”

 

Op die “aanhou beweeg en geraas maak”-noot sê radiopromotor, Gershwin Koen, dat dié mentorskapprogram nie net ’n plek is waar jy ongelooflike persoonlike groei ervaar en netwerke opbou nie, maar ook ’n platform om jou oorspronklike musiek te kan skep en slyp tydens werkswinkels met die kans om dit op te neem vir radio, televisie en gehore.

 

“Die talent wat uit hierdie mentorskapprogram gekom het, het die ATKV genoop om ATKV-Crescendo-produksies te begin, wat nuwe produksies op die planke bring en finaliste help om hulle liedjies, albums en musiekvideo’s vry te stel,” vertel projekorganiseerder, Morné van Staden.

 

“Hierdie produkte kan op aanlyn platforms soos YouTube gesien word en liedjies word op radiostasies en stroomplatforms soos Apple Music, YouTube Music, Spotify, Amazon Music en Deezer vrygestel. Op hierdie manier voorsien ATKV-Crescendo ’n konstante vloei van nuwe stemme, kunstenaars en liedjies aan die Afrikaanse musiekindustrie.”

 



Whaden Johannes, Lyntjie Jaars en Joshua na die reën moedig kunstenaars aan om die kans te waag om vir ATKV-Crescendo se mentorskapprogram in 2026 in te skryf.

 
 
 
bottom of page