top of page

Alle plasings

  • gracianicholls
  • Feb 6
  • 3 min read

Nuusvrystelling: 6 Februarie 2026


Vir 52 jaar reeds is ATKV-Crescendo jaarliks verantwoordelik vir die ontdekking en ontwikkeling van Suid-Afrika se mees talentvolle liedjieskrywers – en in 2026 is dit wéér die geval!

 

ATKV-Crescendo is trots om aan te kondig dat 12 nuwe kunstenaars hulle vanjaar aansluit by die uitgelese groep kunstenaars wat al aan die gesogte ATKV-Crescendo-mentorskapprogram deelgeneem het.

 

Inskrywings vir dié mentorskapprogram het om middernag op 31 Desember 2025 gesluit, en soos elke jaar was die beoordelingsproses allermins maklik, want die kwaliteit van liedjies en skrywers was weer van hoogstaande gehalte.

 

Kunstenaars wat inskryf, moes ’n kopie van hul lirieke en ’n nie-professionele opname van hul lied indien. Hierdie opname kon selfs ’n stemnota wees, dus is die proses baie maklik en spesifiek daarop gemik om rou talent te kan hoor.

 

Die doel van die mentorskapprogram is om aan kunstenaars en liedjieskrywers opleiding te bied wat hulle bemagtig om suksesvolle en volhoubare onafhanklike loopbane te kan begin, en dus strek die onderrig tydens die program van liriekontwikkeling, melodie-ontwikkeling, struktuur, kreatiewe skryfprosesse en entrepreneurskap tot produksie, digitale platforms, musiekregte, publisiteit en bemarking, alles aangebied deur kundiges vanuit elke dissipline.

 

Die 12 talentvolle kunstenaars wat hierdie jaar se ATKV-Crescendo-mentorskapprogram van 28 Maart tot 5 April sal bywoon, kan uitsien na sessies wat aangebied sal word deur Ilse de Beer van Mighty Rivers, Craig Lucas, Petronel Baard, Babette Viljoen, Olga Leonard, Deon Meiring, Brandon October, Whaden Johannes, Chris de Bruyn van die NWU, die Namibiese kunstenaar Ixa, Jarrod Morkel van CogNative Design Solution en William Jacobs, die musikale regisseur van ATKV-Crescendo.

 

Die week eindig met ’n geslote konsert, UNPLUGGED, wat slegs deur die kunstenaars, mentors en ’n handjievol genooide gaste bygewoon word. Dit is die vierde keer dat hierdie reeks konserte aangebied word, en hier sal die kunstenaars nuutgeskrewe liedjies, wat tydens die week van die mentorskapprogram geskryf is en waaraan hulle saam met die mentors geslyp het, saam met die Crescendo-orkes uitvoer.

 

Van ons beoordelaars:

 

·      Babette Viljoen: “Daar is beslis belowende potensiaal wat verder ontgin kan word.”

·       Petronel Baard: “Ek was beïndruk met die hoeveelheid inskrywings en die diversiteit wat dit ingesluit het. Dis bemoedigend om te sien hoeveel móói gedagtes mense nog op fisieke en spreekwoordelike pen en papier neersit, asook die eerlike toonsettings wat dit so kreatief eggo.”

·       Whaden Johannes: “Vanjaar se inskrywings was anders as vorige jare wat ek beoordeel het. Dit was uniek. Ek sien uit na wat verder gaan gebeur met die kunstenaars wat aan die mentorskapprogram deelneem.” 

 

Die name van die 12 kunstenaars wat vanjaar aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram deelneem, is:

 

1.     Adrian Bothma van Mitchells Plain

2.     Aladin Buis van Herbertsdale

3.     Carla van Aardt van Elarduspark, Pretoria

4.     Christo van der Merwe van Danabaai, Mosselbaai

5.     David McCorney van Okahandja, Namibië

6.     Edwill Jantjies van Riversdal

7.     Kate Deen van Pretoria

8.     Lenel Oosthuizen van Randburg

9.     Nadine Manuel van Lotus River

10.  Rezwaan Goliath van Port Elizabeth

11.  Zander Mouers van Walvisbaai, Namibië

12.  Zane-Pierre van Dalen van George

 


ATKV-Crescendo is opgewonde oor die moontlikhede wat hierdie mentorskapprogram vir 2026 se deelnemers gaan ontsluit.

 

Kontak ATKV-Crescendo op sosiale media:

-        Facebook: https://www.facebook.com/atkvcrescendo/

-        Instagram: https://www.atkv.crescendo 

 

Vir verdere inligting, kontak gerus: 

Projekorganiseerder: Morné Ayeni by mornea@atkv.org.za

Produksie-assistent: Selby Williams by selbyw@atkv.org.za

Sosiale media en bemarking: Gracia Louw by crescendo02@atkv.org.za

 
 
 
  • gracianicholls
  • Feb 2
  • 2 min read

Hiers wat broei vir 2026


'n Nuwe jaar. Nuwe stemme. Nuwe stories


By ATKV-Crescendo begin elke nuwe jaar met die vraag:

Wie se lied wag om gehoor te word?


2026 is propvol nuwe musiek , opleiding, produksies en hope oomblikke van MOOI MAAK! Hier is ’n blik op wat broei vir 2026 en hoe jy deel kan wees van hierdie musiekreis.


Oogvlak kyk na ’n lewendige albumbekendstelling met kunstenaars op die verhoog en ’n entoesiastiese skare
Joshua na die Reen & Eddy Strings tydens Lucia se albumbekendstelling in 2025

Mentorskapprogram bring nuwe stemme na vore

28 Maart - 5 April 2026


Die gesogte Crescendo Mentorskapprogram keer in 2026 terug en bied 18 opkomende liedjieskrywers uit Suid-Afrika en Namibië die geleentheid om onder leiding van ervare mentors, soos Joshua na die reën, Petronel Baard, Whaden Johannes en Brandon October, onder andere, te groei en hul eie stemme te verfyn.


Die name van die 2026 Crescendo mentorprogram-kunstenaars word op 6 Februarie aangekondig.






Vier nuwe albumbekenstellings


2026 bring nie net nuwe stemme nie, maar ook vier splinternuwe albums wat die Afrikaanse musieklandskap gaan verryk. Hierdie albumbekendstellings is ’n viering van kreatiwiteit en die diversiteit van musiek wat in ons gemeenskappe broei.


Oogvlak kyk na ’n opgeneemde sessie in ’n professionele klankstudio met ’n kunstenaar wat koptelefoon dra en gefokus is op die mikrofoon
Crescendo opnamekunstenaars van 2026: Lizl Simoes, Mark Pekeur,Salvador Mouers, Tamryn Paulse


Selby Williams se nuwe enkelsnit


Selby Williams gee die pas aan en skop die jaar af op ’n hoë noot met sy nuwe enkelsnit, Fix the vibe wat op 27 Februarie vrygestel word. Hierdie liedjie is ontwerp om die harte en voete van Suid-Afrikaners te roer met sy energieke en aansteeklike klank.










Landswye werkswinkels vir liedjieskrywers


In samewerking met Kwena Music, The Father’s Heart, Pebble’s Project, Kleinmond Arts & Culture Hub en Joshua na die Reën (Gauteng), bied ATKV-Crescendo ’n reeks liedjieskryf 101 werkswinkels aan regoor die land asook in Namibië


Hierdie werkswinkels is ontwerp om aspirante liedjiskrywers te help om hul vaardighede te verbeter. Deelnemers kry die kans om saam te werk, te leer en hul eie musiek te skep in ’n ondersteunende omgewing.



GOUD2026: 4 Julie 2026

Ons gaan weer vir GOUD met vier nuwe opnamekunstenaars, die nuutste klanke en lirieke uit die penne van die warmste nuwe Afrikaanse liedjieskrywers. Tydens GOUD stel ons die vier nuwe opnamekunstenaars vir 2027 bekend met bekende gaskunstenaars.



Feeste & Produksies


Beleef ATKV-Crescendo op feeste en by produksies regoor die land:

  •   🎭 Suidoosterfees Koregalakonsert (vervaardig deur Crescendo)

  • RSG/ATKV-Kuierkol van 28 Maart tot 4 April : Daaglikse optredes deur Crescendo legendes en Crescendo se nuutste opnamekunstenaars

  •     🎪 Nuwe Crescendo-verskeidenheidsproduksie te sien by feeste landswyd

  • ·🌾 Solms-Delta Oesfees 


Hierdie lys is net ’n voorsmakie van wat 2026 gaan bring – hou ons dop vir nog hoogtepunte!


Word deel van die Crescendo-Familie! 

Of jy ’n liedjieskrywer is wat wil groei, ’n musiekliefhebber op soek na nuwe klanke, of iemand wat kultuur vier - dankie dat jy saam ons reis.

 

Maak gereed vir ’n onvergeetlike 2026, en volg ons om op hoogte te bly van alle dinge #Crescendo




 
 
 
  • marlizeleyden8
  • Nov 6, 2025
  • 2 min read

Updated: Nov 7, 2025

Die gesogte ATKV-Crescendo-mentorskapprogram het ’n groot hupstoot gekry met ’n borg- en vennootskap van die M&M-musiekakademie, ’n houermaatskappy van Kwena Music. Hierdie samewerking sluit nie net finansiële ondersteuning in nie, maar mentors van M&M-musiekakademie gaan ook beskikbaar gestel word om opkomende kunstenaars tydens die program onder hul vlerk te neem en industriegereed kry.

 

Deur die jaar sal die musiekakademie ook werkswinkels, kunstenaarsvertonings en samewerkende projekte – wat aan deelnemers praktiese ervaring en blootstelling aan die bedryf bied – ondersteun.

 

Volgens Eben de Jongh, hoof- uitvoerende beampte van Kwena Music, is die borgskap deel van ’n groter visie om kunstenaars volhoubaar te ontwikkel.

 

“Ons glo dat musiek vir almal is. Ons wil die mure tussen kunstenaar en gehoor afbreek en musiek meer toeganklik maak vir almal wat dit wil skep en deel. Daar is te veel rompslomp en buitensporige kostes wat nuwe kunstenaars terughou. Talent word nie bepaal deur hoeveel geld jy het nie, en ons missie is om te verseker dat geen kunstenaar wat hul sout werd is deur ’n tekort aan fondse teruggehou word nie,” sê De Jongh.

 

“Deur gratis werkswinkels borg ons toegang tot musiekonderrig, inspireer ons kreatiwiteit, en bemagtig ons individue met die gereedskap om hulself deur musiek uit te druk. Hierdie inisiatief vorm deel van ons breër verbintenis tot sosiale impak – om terug te gee, musiekgeletterdheid te bevorder en te help bou aan ’n meer inklusiewe en lewendige musiekkultuur in Suid-Afrika. Ons probeer finansiële hindernisse verlig deur beurse toe te ken aan die mees talentvolle en gemotiveerde studente.”

 

Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, sê dat die vrugbare vennootskap beteken dat Crescendo meer werkswinkels in meer areas kan aanbied om meer mense te bereik en vaardighede te ontwikkel en slyp.

 

“Daardeur kan ons ’n daadwerklike verskil maak in mense se lewens. Met hierdie vennootskap versterk ATKV-Crescendo en M&M-musiekakademie hul gedeelde doel – om Suid-Afrikaanse kunstenaars te bemagtig, nuwe stemme te laat hoor, en ’n volhoubare musiektoekoms vir almal wat in die krag van musiek glo, te bou.”




Met die ruim borgskap van Kwena Music en M&M-musiekakademie kan nog meer werkswinkels in 2026 gehou word om musikale talent in Suid-Afrika te ontwikkel.

 
 
 
bottom of page