KWENA-VENNOOTSKAP GEE MENTORSKAPPROGRAM HUPSTOOT
- marlizeleyden8
- Nov 6
- 2 min read
Updated: Nov 7
Die gesogte ATKV-Crescendo-mentorskapprogram het ’n groot hupstoot gekry met ’n borg- en vennootskap van die M&M-musiekakademie, ’n houermaatskappy van Kwena Music. Hierdie samewerking sluit nie net finansiële ondersteuning in nie, maar mentors van M&M-musiekakademie gaan ook beskikbaar gestel word om opkomende kunstenaars tydens die program onder hul vlerk te neem en industriegereed kry.
Deur die jaar sal die musiekakademie ook werkswinkels, kunstenaarsvertonings en samewerkende projekte – wat aan deelnemers praktiese ervaring en blootstelling aan die bedryf bied – ondersteun.
Volgens Eben de Jongh, hoof- uitvoerende beampte van Kwena Music, is die borgskap deel van ’n groter visie om kunstenaars volhoubaar te ontwikkel.
“Ons glo dat musiek vir almal is. Ons wil die mure tussen kunstenaar en gehoor afbreek en musiek meer toeganklik maak vir almal wat dit wil skep en deel. Daar is te veel rompslomp en buitensporige kostes wat nuwe kunstenaars terughou. Talent word nie bepaal deur hoeveel geld jy het nie, en ons missie is om te verseker dat geen kunstenaar wat hul sout werd is deur ’n tekort aan fondse teruggehou word nie,” sê De Jongh.
“Deur gratis werkswinkels borg ons toegang tot musiekonderrig, inspireer ons kreatiwiteit, en bemagtig ons individue met die gereedskap om hulself deur musiek uit te druk. Hierdie inisiatief vorm deel van ons breër verbintenis tot sosiale impak – om terug te gee, musiekgeletterdheid te bevorder en te help bou aan ’n meer inklusiewe en lewendige musiekkultuur in Suid-Afrika. Ons probeer finansiële hindernisse verlig deur beurse toe te ken aan die mees talentvolle en gemotiveerde studente.”
Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, sê dat die vrugbare vennootskap beteken dat Crescendo meer werkswinkels in meer areas kan aanbied om meer mense te bereik en vaardighede te ontwikkel en slyp.
“Daardeur kan ons ’n daadwerklike verskil maak in mense se lewens. Met hierdie vennootskap versterk ATKV-Crescendo en M&M-musiekakademie hul gedeelde doel – om Suid-Afrikaanse kunstenaars te bemagtig, nuwe stemme te laat hoor, en ’n volhoubare musiektoekoms vir almal wat in die krag van musiek glo, te bou.”
Met die ruim borgskap van Kwena Music en M&M-musiekakademie kan nog meer werkswinkels in 2026 gehou word om musikale talent in Suid-Afrika te ontwikkel.









Comments