top of page

Meer oor ons 2026-opnamekunstenaars

'n Nuwe generasie legendes

Ons stel bekend: Lizl Simoes, Tamryn Paulse, Mark Pekeur en Salvador Mouers – ’n nuwe generasie kunstenaars waardig om Crescendo se musikale fakkel die volgende halfeeu in te dra.

​

Lizl
Simoes

Só het dit begin

Ek onthou so ’n pienk, plastiese mikrofoon waarmee ek gespeel het. Volgens my ma kon ek sing voor ek praat. Op vyf het ek met klavier- en op nege met sanglesse begin.

Ek wil hê my musiek ...                     

... moet elemente hê van verskillende genres. Dit hoef nie altyd ernstig te wees nie. Soms is dit ’n liefdesliedjie, soms ’n ballade – amper soos ’n dagboek van my eie lewe.

Lizl 01_edited.jpg

Min mense weet dat ...

... ek ook al ’n blank geslaan het. Nie op ’n verhoog nie, veel erger – toe ek my klaviereksamen in my finale jaar op universiteit gedoen het. Dit klink miskien vir ander mense oppervlakkig, maar tot dusver was dit een van die mees traumatiese goed wat in my lewe gebeur het. Vir die eerste keer moes ek my persepsie van myself skei van dit wat ek musikaal kan doen.

​Tot dusver het Crescendo ...

... my geleer om die proses te vertrou. As ’n perfeksionis sukkel ek om die leisels aan ander te gee, maar met hierdie projek is ek tussen mense wat ek kan vertrou

 

“Ek skryf omdat ek voel, leef, dink, wil weet en omdat ek leef.”

Lizl Simoes
Mark 01.jpg

Mark Pekeur

Só het dit begin

Alhoewel ek in die kerkkoor gesing en op tien myself kitaar leer speel het, het ek nooit gedink ek sal ’n musikant word nie. Toe ek met lockdown nie soos gewoonlik sport kon beoefen nie, het ek vir die eerste keer ’n loopbaan in die kunste oorweeg. Vandag is ek lid van die Suid-Afrikaanse jeugkoor en baie bevoorreg om een van Crescendo se 2026-opnamekunstenaars te wees.

Ek wil hê my musiek ...                     

... moet woorde gee aan dit wat ander mense voel, maar miskien nie kan beskryf nie. Dit is wat musiek vir my geword het – ’n manier om uiting aan my eie emosies te gee. Voorheen was dit sport – krieket, gholf en tafeltennis, maar die proses van skep, bring groter vrede en kalmte in my.

Min mense weet dat ...

... ek op skool daardie ou was met wie almal oor hulle probleme kom praat het en dit terwyl ek self ook goed het om te verwerk. Selfs ouer mense het al by my troos gesoek, terwyl ek beslis nie al die antwoorde gehad het of steeds het nie.

Tot dusver het Crescendo ...

... my groter aanvaarding van myself gebring. Ek voel tuis tussen die Crescendo-familie en is lankal nie meer daardie persoon wat my eie seer deur grappies probeer wegsteek nie.

​

“Ek skryf om te probeer sin maak van alles in my kop en my emosies te prosesseer.”

Mark Pekeur

Salvador
Mouers

Só het dit begin

Van my vroegste herinneringe was toe ek op kleuterskool as driejarige in ’n konsert opgetree het. Ek onthou nie veel nie, maar ek onthou dat dir vir my lekker was toe die mense hande geklap het. Verder onthou ek hoe ek op my oupa se huis se dak vir die hele Narraville in Windhoek gesing het – of hulle nou wou hoor of nie.

Met my musiek wil ek ...

... die struikelblokke wat ek met genade oorkom het gebruik om mense hoop te gee.​

Salvador 01_edited.jpg

Min mense weet ...

... hoe dit voel as ’n onderwyser voor die hele klas vra wanneer my ouers die skoolgeld gaan betaal, en dit terwyl daar letterlik nie geld vir kos was nie. Ja, my oupa het vir ons sy huis gelos, maar dit was soos ’n leë dop sonder water of elektrisiteit. Vir my ma, ’n enkelouer van vyf kinders, was skoolfondse die laaste ding waaroor sy bekommerd was. Maar as kind kom lê daardie skaamte oor jou, word dit deel van jou menswees.

Tot dusver het Crescendo ...

... my laat besef dat die negatiewe van my komvandaan nie die eindpunt van my reis bepaal nie. Wie sou ooit kon dink dat daardie outjie wat in ’n stadium skool gelos het omdat hy net geen ander toekoms gesien het nie eendag sy eie album met sy eie liedjies gaan vrystel? Crescendo het my passie vir musiek weer laat brand.

​

Ek skryf omdat ek ’n boodskap het. Ek het ’n droom, ’n passie, ’n honger en ’n dors.”

​

Salvador Mouers
Tamryn Paulse
Tamryn 02.jpg

Tamryn Paulse

Só het dit begin

Onthou julle daardie kassetspelers waar jy die kasset indruk ... ek het daardie goed stukkend gespeel. As ’n tiener het ek vir die eerste keer aan die hoof van ons kerk se musiekbediening gestaan. Dit is ook in hierdie tyd wat ek die eerste keer my hand aan oorspronklike musiek gewaag het.

Crescendo het tot dusver ...

... my die kans gegee om in die eerste plek Tamryn te wees, nie net vrou, ma en pastoor nie. Ja, ek voel steeds skuldig as ’n ma om my kinders alleen te los, maar die tyd het ook nou aangebreek om te herontdek wie ek is. Tamryn, net so, sonder enige maskers, net mens.

Mense weet nie dat ...

... ek soos so baie ander mense van jongs af aan depressie ly nie. Met die jare en met die hulp van steunpilare soos my man en ma het dit al beter geraak, maar daar is steeds tye, soos met my pa se dood verlede jaar, dat ek moet keer om nie oorweldig te word nie.

Ek wil hê my musiek ...

... moet ’n veilige hawe vir mense wees – ’n uitnodiging om stil te word, te luister en geraak te word. Ek wil aan mense toestemming gee om net te wees. Eerlik, sonder om doekies om te draai.

​

“Skryf is vir my ’n uitlaatklep. Ek verstaan myself beter wanneer dit op papier is.”

bottom of page