ATKV-Crescendo-mentorskapprogram 2026
- gracianicholls
- Feb 6
- 3 min read
Nuusvrystelling: 6 Februarie 2026
Vir 52 jaar reeds is ATKV-Crescendo jaarliks verantwoordelik vir die ontdekking en ontwikkeling van Suid-Afrika se mees talentvolle liedjieskrywers – en in 2026 is dit wéér die geval!
ATKV-Crescendo is trots om aan te kondig dat 12 nuwe kunstenaars hulle vanjaar aansluit by die uitgelese groep kunstenaars wat al aan die gesogte ATKV-Crescendo-mentorskapprogram deelgeneem het.
Inskrywings vir dié mentorskapprogram het om middernag op 31 Desember 2025 gesluit, en soos elke jaar was die beoordelingsproses allermins maklik, want die kwaliteit van liedjies en skrywers was weer van hoogstaande gehalte.
Kunstenaars wat inskryf, moes ’n kopie van hul lirieke en ’n nie-professionele opname van hul lied indien. Hierdie opname kon selfs ’n stemnota wees, dus is die proses baie maklik en spesifiek daarop gemik om rou talent te kan hoor.
Die doel van die mentorskapprogram is om aan kunstenaars en liedjieskrywers opleiding te bied wat hulle bemagtig om suksesvolle en volhoubare onafhanklike loopbane te kan begin, en dus strek die onderrig tydens die program van liriekontwikkeling, melodie-ontwikkeling, struktuur, kreatiewe skryfprosesse en entrepreneurskap tot produksie, digitale platforms, musiekregte, publisiteit en bemarking, alles aangebied deur kundiges vanuit elke dissipline.
Die 12 talentvolle kunstenaars wat hierdie jaar se ATKV-Crescendo-mentorskapprogram van 28 Maart tot 5 April sal bywoon, kan uitsien na sessies wat aangebied sal word deur Ilse de Beer van Mighty Rivers, Craig Lucas, Petronel Baard, Babette Viljoen, Olga Leonard, Deon Meiring, Brandon October, Whaden Johannes, Chris de Bruyn van die NWU, die Namibiese kunstenaar Ixa, Jarrod Morkel van CogNative Design Solution en William Jacobs, die musikale regisseur van ATKV-Crescendo.
Die week eindig met ’n geslote konsert, UNPLUGGED, wat slegs deur die kunstenaars, mentors en ’n handjievol genooide gaste bygewoon word. Dit is die vierde keer dat hierdie reeks konserte aangebied word, en hier sal die kunstenaars nuutgeskrewe liedjies, wat tydens die week van die mentorskapprogram geskryf is en waaraan hulle saam met die mentors geslyp het, saam met die Crescendo-orkes uitvoer.
Van ons beoordelaars:
· Babette Viljoen: “Daar is beslis belowende potensiaal wat verder ontgin kan word.”
· Petronel Baard: “Ek was beïndruk met die hoeveelheid inskrywings en die diversiteit wat dit ingesluit het. Dis bemoedigend om te sien hoeveel móói gedagtes mense nog op fisieke en spreekwoordelike pen en papier neersit, asook die eerlike toonsettings wat dit so kreatief eggo.”
· Whaden Johannes: “Vanjaar se inskrywings was anders as vorige jare wat ek beoordeel het. Dit was uniek. Ek sien uit na wat verder gaan gebeur met die kunstenaars wat aan die mentorskapprogram deelneem.”
Die name van die 12 kunstenaars wat vanjaar aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram deelneem, is:
1. Adrian Bothma van Mitchells Plain
2. Aladin Buis van Herbertsdale
3. Carla van Aardt van Elarduspark, Pretoria
4. Christo van der Merwe van Danabaai, Mosselbaai
5. David McCorney van Okahandja, Namibië
6. Edwill Jantjies van Riversdal
7. Kate Deen van Pretoria
8. Lenel Oosthuizen van Randburg
9. Nadine Manuel van Lotus River
10. Rezwaan Goliath van Port Elizabeth
11. Zander Mouers van Walvisbaai, Namibië
12. Zane-Pierre van Dalen van George
ATKV-Crescendo is opgewonde oor die moontlikhede wat hierdie mentorskapprogram vir 2026 se deelnemers gaan ontsluit.
Kontak ATKV-Crescendo op sosiale media:
- Facebook: https://www.facebook.com/atkvcrescendo/
- Instagram: https://www.atkv.crescendo
Vir verdere inligting, kontak gerus:
Projekorganiseerder: Morné Ayeni by mornea@atkv.org.za
Produksie-assistent: Selby Williams by selbyw@atkv.org.za
Sosiale media en bemarking: Gracia Louw by crescendo02@atkv.org.za



























Comments