top of page

Edinia Citwa se soeke na liefde met “Jy’s my stil”

  • marlizeleyden8
  • Sep 23, 2025
  • 2 min read

As wind oor my drome kom vee

en die wêreld my weer weeg

dan kom jy soos ’n fluister

tussen dinge wat ek nie kan sê.

 

Jy is die son in my winter

’n vuur sonder vlam.

Jy is die lig in my donker

’n stil soort bestaan.

Jy is die kalm in my storm

’n asem vol rus

’n lied in my twyfel

jy is my stil.


Met hierdie beeldryke woorde open die sanger en liedjieskrywer, Edinia Citwa (43) van Mosselbaai, haar nuutste enkelsnit, Jy’s my stil, wat vanaf 22 September op radiostasies landswyd gehoor kan word. Hierdie lied is haar tweede enkelsnit op die debuut-EP, met die titel, Gebore om te wen, wat vroeër vanjaar by die Daisy Jones-teater bekend gestel is.

Die liedjie is ’n intieme, persoonlike belydenis en herinner ons daaraan dat liefde nie altyd in groot gebare lê nie, maar dikwels in die stil, teenwoordige oomblikke saam met die mense wat die meeste saak maak.


“Die lirieke van ‘Jy’s my stil’ het gekom in ’n tyd toe ek self gesoek het na stilte en sekerheid,” vertel Edinia. “Ek het besef dat liefde nie altyd hard en groot hoef te wees nie – soms lê die mooiste deel van liefde in daardie stil oomblikke; in die teenwoordigheid van iemand wat net dáár is. Ek wou dit vasvang in beelde wat almal kan verstaan – die son in jou winter; kalmte in jou storm; ’n asem vol rus ... Dit daardie tipe liefde wat ek met die lied wou verwoord.”


Hierdie liedjie het Edinia, ’n ma van drie seuns, geskryf toe sy diep oor die soeke na liefde en gebroke liefde nagedink het. Sy het neergepen wat sy in die toekoms van die liefde verwag. “Ek sien uit na ’n tipe liefde wat geskoei is op stilte en kalmte. Ek wil hê almal wat dit hoor moet weggevoer word na stille ruimtes van liefde en sekerheid in die liefde,” sê sy.

Eddie Strings is in samewerking met die Crescendo-produksiehuis verantwoordelik vir die vervaardiging van die liedjie. “Eddie het dadelik verstaan waarna ek soek met die liedjie. Ek het na ’n klank gesoek wat sag en kalm is, en deurdrenk is met emosie.”


Edinia sê die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram het nie net haar musiekloopbaan verander nie, maar haar lewe en karakter het gegroei. “Ek het baie introspeksie gedoen en het baie dinge in die proses oorkom. Dit was en is steeds ’n lewensveranderende ondervinding.”

 
 
 

Comments


bottom of page