top of page

Eulanda Wagner laat haar stem hoor – dis Nou of nooit

Met ’n lied in haar hart en vasberadenheid in haar siel, vier die sprankelende enkelma van twee, Eulanda Wagner (40), haar enkelsnit Nou of nooit – ’n inspirerende poplied met invloede van jazz, funk en R&B. Die liedjie, geskryf tydens die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram in 2025, is in Maart vanjaar opgeneem en is nou beskikbaar vir radiovrystelling.


Nou of nooit is nie net ’n lied nie. Vir Eulanda is dit ’n lewensfilosofie. As ma van ’n outistiese seuntjie, Brandon (8), moes sy leer om elke dag moed te hou, selfs wanneer dinge donker voel. Hierdie lied is ’n baken van hoop – vir haar, vir ander enkelouers, en vir almal wat soms twyfel aan hul eie pad.


“Die lied het my deur moeilike tye gedra. Ek moes leer om op my intuïsie te vertrou, myself opnuut lief te hê, en die geraas van die wêreld stil te maak,” sê sy.


“Wil jy nog daai mens wees wat in alles faal? Of wil jy daai mens wees wat jou eie lot bepaal?” Hierdie lirieke uit die lied vang die kern van Eulanda se reis vas: selfaanvaarding, moed, en die wete dat die tyd om jou drome te leef, nóú is.


 “Ek moes leer om myself nie deur ander se oordele te laat definieer nie – oor my kind, my liggaam, en my drome. Hierdie lied is mý manier om daardie stem stil te maak en my eie waarheid te sing,” verklaar die liedjieskrywer van Worcester.


Met die ondersteuning van ATKV-Crescendo, het Eulanda nie net haar stem gevind nie, maar ook anders oor haarself begin dink. “Die program het my as kunstenaar én as mens gevorm. Ek het geleer dat jou menswees belangriker is as enige roem. Ek dra daardie les elke dag met my saam.”


Foto: Vernon Pienaar (SVE Media)
Foto: Vernon Pienaar (SVE Media)

Op 16 Mei stel Eulanda onder andere saam met Crescendo-medementorskapdeelnemer Victor Fredericks en gaskunstenaar Riku Lätti by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch hierdie enkelsnit vry.

 
 
 

Comentários


bottom of page