Lucia se enkelsnit "Hou van jou" nou landswyd op radiostasies te hoor
- marlizeleyden8
- 3 days ago
- 2 min read
Die pragtige en talentvolle sangeres en liedjieskrywer, Lucia van Pretoria, stel haar nuutste enkelsnit, “Hou van jou”, bekend. Die opgewekte snit dra ’n universele boodskap: jy kan selfs van iemand hou sonder om dit ooit hardop te sê. Soms hou die geheim die misterie lewendig totdat die vlammetjie uitdoof of die liefde wel ontkiem.
As ’n gewilde ATKV-Crescendo-kunstenaar het Lucia vroeër vanjaar haar debuutalbum, As jy val, by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch vrygestel. Al vier die snitte – almal uit haar eie pen en deur Crescendo Musiek vervaardig – is daarna op digitale platforms vrygestel. “Hou van jou” is die tweede snit wat op radiostasies landswyd te hoor gaan wees en het volgens Lucia ’n ligter melodieuse aanslag as die temalied, “As jy val”.
“In die stilte sal ek van jou hou, tot jou glimlag my onthou. Weet dat ek vir jou wil hê, al bly dit ongesê. Jy leef steeds hier in my hart, elke keer as ek aan die klawers vat.”
Lucia beskryf die snit as lig en speels, maar ook eerlik en persoonlik. “Ek het hierdie lied geskryf vir iemand wat glad nie weet hoe ek voel nie,” erken sy. “Ek is mal oor sing, en as ek van iemand hou, skryf ek sommer ’n lied daaroor.”
Sy voeg by: “Ek het op daardie stadium baie Coldplay geluister en sommer besluit ek wil daardie tipe musiek in Afrikaans skryf. Ek het iemand stil-stil bewonder en in daardie stilte het ek hierdie liedjie geskryf.”
Die resultaat is ’n melodie wat jou warm laat glimlag – amper soos verlief-wees self.
“Dis ’n song wat jy vir iemand kan stuur, self kan koester, of selfs op kan dans, want dit lig jou op!” sê Lucia.
“Hou van jou” is deur Lucia geskryf, met Jean-Marc Meyer as vervaardiger. Meyer was ook die agtergrondstem en het die vars, radiovriendelike klank help vorm.
Hou van jou is Lucia se tweede enkelsnit wat nou op radiostasies landswyd gehoor kan word.
Comments