ATKV-Crescendofinalis Lucia Poggenpoel gee met die vrystelling van haar enkelsnit, My crescendo, op 22 Maart dubbele betekenis aan hierdie Italiaanse musiekterm wat meer, harder, groeiend beteken.
Lucia, ’n gebore Pretorianer wat ’n B.Mus.-graad aan die Universiteit van Noordwes behaal het, was nog altyd lief vir musiek. In die laerskool het sy in die koor gesing en klavierlesse geneem. “Dit was eers op hoërskool,” vertel Lucia, “toe ek vir my klavierjuffrou ’n solo gesing het dat die sanggogga my eers behoorlik gebyt het.”
Lucia se talent in die kunste is egter nie net tot musiek beperk nie. Tydens haar studies het sy ’n professionele dramadiploma voltooi en in 2017 besluit sy om die drade van musiek, dans en drama bymekaar te bring deur ’n Graad 8-musiekteatereksamen te verwerf. Benewens klasgee, tree Lucia dikwels as ’n sessiemusikant op. In 2023 is sy gekies om die ATKV se musiekmentorskapprogram in die Paarl by te woon.
“Die program het ekstra baie vir my beteken omdat dit gehou is in die Paarl waar my broer ook gebly het. Hy is so twee jaar gelede oorlede en ek het baie gesukkel om dit te verwerk. Die mentorskapprogram het my die geleentheid gegee om deur my hartseer te werk. Liedjies is vir my baie genesend.”
ATKV-Crescendo, wat in 2024 ’n halwe eeu van talentontdekking en talentontginning jonk is, is vir Lucia baie meer as net ’n mentorskapprogram. “Die mense wat by hierdie projek betrokke is, het my nie met musikaal nie, maar ook emosioneel laat groei. In die liedjie beskryf ek hulle as ‘omgeemense, eg en getrou, met min woorde sien hulle die waarde in jou’. Ek het lank met die idee van die woord crescendo gespeel. In die eerste plek is daar natuurlik die musiekterm crescendo wat ’n positiewe groei-beeld het. Deur die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram het ek musikaal en emosioneel gegroei en die derde rede is dat ek my broer deur my musiek laat groei. Al is hy nie meer hier nie, laat ek hom deur musiek groei.”
Projekbestuurder Morné van Staden verduidelik hoekom My Crescendo gekies is as die temalied vir die vyftigjarige bestaansviering van hierdie mentorskapprogram: “Uit gesprekke en onderhoude met finaliste, mentors en selfs vorige legendes, som hierdie lied die gevoelservaring op van almal wat een of ander tyd in hul lewe by ATKV-Crescendo betrokke was.
Hy laat ’n klein apie uit die mou: “Hierdie musiekvideo is maar net die eerste van twee bekendstellings. Die video wat Vrydag, 22 Maart vrygestel gaan word, is die eerste deel van die bekendstelling sodat almal weet My crescendo is Lucia se liedjie. Die tweede gedeelte van die liedjie word in die helfte van 2024 uitgereik en sal by alle ATKV-Crescendoproduksies genaamd Platformsessies opgevoer word. Ondersteuners kan ook uitsien na ATKV-Crescendo se amptelike verjaarsdagkonsert in November vanjaar waar My crescendo ’n belangrike deel van die produksie vorm.
Die musiek van die My crescendo-musiekvideo, wat Vrydag, 22 Maart op verskeie sosialemediaplatforums geloods gaan word, is opgeneem en verwerk deur Helmut Meijer. Die musiekvideo is saamgestel deur Brendan Nicholls en mede-mentorskapdeelnemer Selby Williams kan saam met Lucia op My crescendo gehoor word.
Comentários