Victor Fredericks roer hartsnare met enkelsnit Blackberry Juice en Jin
- marlizeleyden8
- May 13
- 2 min read

Foto: Brendon Nicholls
“Sal ons op ons rugte lê en die Milky way aanskou?”
Só begin die refrein van ATKV-Crescendo-mentorskapdeelnemer Victor Fredericks se nuutste enkelsnit – ’n sagte, hunkerende vraag wat die luisteraar dadelik terugneem na eenvoudiger dae van jong liefde, oop Boland-lugruimtes en laatnaggeselsies. Blackberry Juice en Jin is ’n Afrikaanse bluesballade wat melancholie en verlange in elke noot dra. Die sagte kitaarspel, jazz ondertone en Victor se eerlike stem skep ’n klankwêreld wat intiem en roerend is.
Die snit is gebore uit persoonlike herinnering: laatnag-boodskappe, afstand en verlange, en ’n liefde wat bly spook. “Die woorde het tussen die trane en die papier gekom,” sê Victor. “Dis hoe ek met haar, en met myself, gepraat het.”
Victor se lirieke spreek universele temas aan – verlies, hoop, vergifnis – maar sy stem en styl maak dit uniek syne. Met verwysings na e-posse, fakse, posduiwe en briefies, bring hy ’n storie tot lewe van twee mense wat aanhou probeer praat, al raak die wêreld tussen hulle groter.
“Blackberry juice en ’n bietjie jin is wat ons gehad het,” onthou hy. “Dis ’n simboliese drankie, maar ook regtig hoe ons gesels het onder die sterre. Die lied is lig en swaar tegelyk, soos die lewe maar is.”
In 2024 is Victor gekies as een van die top tien finaliste by die ATKV Crescendo-mentorskapprogram – ’n mylpaal wat, volgens hom, sy hele benadering tot musiek verander het.
“Voor Crescendo het ek in my eie wêreld geskryf,” vertel hy. “Maar toe leer ek nuwe genres ken, nuwe maniere van dink. Ek het vriende gemaak, mentors ontmoet, en vir die eerste keer gevoel dat ek êrens hoort.”
Crescendo het die ruimte vir Blackberry Juice en Jin geskep om te groei – en dit het aan Victor ’n platform gegee om sy stem met die wêreld te deel.
VRYSTELLINGSBESONDERHEDE
Blackberry Juice en Jin is beskikbaar op alle groot stromingsplatforms.
Lewendige bekendstelling van enkelsnit op 16 Mei 2025 by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch.
Comments